Ek was nog altyd mal oor fantasieverhale, en daar is iets besonders daaraan om na ’n wêreld te reis wat pure magie is. Dit is selfs beter wanneer daardie wêreld Afrikaans is.

Om in ’n Afrikaanse huis groot te word, het beteken dat ons met stories grootgeword het. Stories van die vorige generasies is oorgedra, óf dit is sommer op die ingewing van die oomblik uitgedink is. Hoe dit ook al sy, daar was altyd ruimte vir ons verbeelding om ons na plekke te neem waarheen ons werklikheid nooit kon nie.
Silas en Die Ysbeer op Tafelberg is een van daardie stories wat my terug na my kinderdae neem. Die karakters kom uit verhale wat aan my vertel is of wat ek by vriende opgetel het, en snaaks genoeg is dit wat hierdie storie vir my eg laat voel. Buiten dit, dek die film ook ’n paar verskillende temas, soos vriendskap, aanvaarding, avontuur en, die belangrikste van alles, verlies.
Die film volg Silas, ’n jong seun wie se ouma skielik sterf, en hy gaan na droomland om haar te vind. Hy word deur sy buurmeisie, Willemien, vergesel, en saam maak hulle nuwe, mistieke vriende. Die film voel soos ’n kruising tussen al die beste films uit die 80’s en 90’s maar dit is op Afrikaanse mitologie gebaseer.
Ek is opreg verras deur wat die rolverdeling en span met hierdie film kon regkry. Dit is nie net die tegniese aspekte waarvan ek gehou het nie, maar die storie het werklik by my aanklank gevind. Ek het ook vriende gemaak onder die moeilikste omstandighede, en ek het ook ’n grootouer verloor toe ek Silas se ouderdom was.



Die manier waarop hierdie film dood hanteer het, was pragtig. Kinders verstaan gewoonlik nie die dood op dieselfde manier as ons nie, so hierdie storie is nie net ’n manier vir hulle om dit te verstaan nie, maar dit vertel hulle ook dat wanneer ’n lewe verlore gaan, dit nie beteken dat die liefde verlore is nie.
Ek kan aanhou en aanhou oor die storie, maar ek wil vir ’n oomblik by die rolverdeling stilstaan. Neels Claasen Jr. speel die rol van Silas, en hy doen ’n ongelooflike werk. Hy word vergesel deur Luna Coetser as Willemien, en sy steel elke toneel. Hulle besit die skerm asof hulle al jare lank in die bedryf is.
Hulle word deur Antoinette Kellermann Beer Adriaanse, Neil Sandilands, Daneel van der Walt, Frieda van den Heever en Brandon Daniels, vergesel. Zandré Coetzer is die regisseer en sy het die skoonheid van Kaapstad en die magie van droomland goed vasgevang. Die film spruit uit ’n idee uit wat sy gehad het, en dit is deur Annie Klopper geskryf.



Die fliek het ook ‘n uitstekende klankbaan. Dit voel magies en baie Suid-Afrikaans. Hulle het ook praktiese effekte gebruik, en dit is asemrowend. Die ysbeer beweeg moeiteloos, en dit voel soos iets wat jy in ’n droom sou sien. Ek is mal oor die grimering, kostuums en stelle. Dit vervoer jou na hierdie fantasiewêreld. Dit het my weer laat besef hoe mooi pure verbeelding kan wees.
Hierdie is die moet-kyk Afrikaanse gesinsfilm. Ek dink nie ons het onlangs een gehad nie, en hierdie een is werklik vir alle ouderdomme. Wie weet, miskien is hierdie film presies wat jy nodig het om verlies te verwerk of om ’n bietjie optimisme te vind gedurende ’n moeilike tyd.
Dit is niks minder as magies nie, en ’n maklike 4 uit 5 sterre.




